TRAVELBUCKET

‘n BESOEK AAN OUDSTHOORN

Vandag moes ek weer ‘n paar uur in die Klein Karoo spandeer en het ek my ma in die ouetehuis gaan haal om die dorp te gaan verken.  My roete vat my eers tot by die Rooms Katolieke Katedraal net so ‘n entjie vanaf Nostalgie en Gotland Huis.  In vergelyking met die glorieryke standsteen geboue is die katedraal wat in 1964 gebou is nie baie indrukwekkend nie.  (Ek het vandag eers uitgevind daar is  ‘n Rooms Katolieke Katedraal op die dorp).

kerke 010

Ek het begin oplees oor die geskiedenis van Oudtshoorn en vind toe uit dat daar  ongeveer 100 Joodse gesinne in 1877 hierheen gevlug het tydens die Russies-Turkse oorlog – meestal vanuit Lithuania wat op daardie stadium ‘n Russiese provinsie was.   Vandaar dat die sinagoge  in Baron van Reedestraat in 1881 opgerig is met die hulp van die Afrikaanssprekende gemeenskap van Oudsthoorn.  Die sinagoge is vandag nog in gebruik en lê weggesteek agter in ‘n lower groen tuin.  Soos wat ek stap hoor ek helder kinderstemme.  Vandag is daar ‘n kleuterskool in die ou Hebreeuse skool gebou agter die sinagoge.  Die kompleks het ook ‘n Joodse klub en die Rabbi se huis gehuisves.

kerke 054

Nog verder aan in Baron van Reedestraat (wat eers bekend was as Queenstraat) kry ek die Ou Tronk wat vroeg in die 19de eeu gebou is en ook die ontwerp van George Wallis was.  Vandag huisves dit nog steeds die Departement van Korrektiewe Dienste in Oudtshoorn.

Dan stop ek eers by Fairview te 131 Baron van Reedestraat wat dateer uit die vroeë 20ste eeu.  Die sandsteen heining met sy pilare waarop Fairview uitgekerf is, is eintlik nog in ‘n goeie toestand en is vir my mooi.

kerke 008

Ons draai op in ‘n nou straatjie om in Hoogstraat uit te kom en na ander juwele van die dorp te gaan kyk en loop onverwags die Methodiste Kerk, toe gerank met ‘n creeper, raak.  Die kerkie is gesluit, maar neem ek tog ‘n paar mooi foto’s hier.

 Metodiste kerk

 In Hoogstraat stop ek by die NG Kerk wat opgerig is vanaf 1860 tot 1879 en sy pastorie (1881) oorkant die straat.  Dit is jammer om te sien dat die kerk se sandsteen geverf is – ‘n mens wonder hoekom, want al die ander sandsteen geboue in Oudtshoorn het so mooi behoue gebly?   Ek dink ou Otto Hager, die argitek, draai in sy graf om as hy dit sien!

kerke 030

 Le Roux Huis reg langs die kerk is vandag oop.  Ons gaan loop ‘n draai deur die huis.   Daar kom ons te hore dat die linoleum en matte nog nooit vervang is nie en steeds oorspronklik is!  Volgens die besoekersboek loer oorsese toeriste gereeld hier in.

kerke 027

Dan op in Kampstraat na die Drill Saal toe.  Die gebou is aan die verwaarloosde kant en is op die oomblik in die mark.  Ek sien ook dat Cecil John Rhodes, die destydse premier van die Kaap Kolonie, die hoeksteen van die gebou gelê het in 1892.  Ek hoop iemand red gou die gebou van ondergang en bewaar die geskiedenis.

kerke 038

My laaste stop vir vandag gaan by die pragtige Foster’s Folly in Voortrekkerstraat wees wat vir JH Foster gebou is,  maar in 1914 bankrot verklaar is toe die volstruis verebedryf ineenstort.   Dit was ook eens as ‘n onderwysers kollege gebruik vanaf 1915 – 1924 en ook later as ‘n meisies koshuis.  In 1991 is dit as ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar en vandag is dit egter ‘n gastehuis wat agter groot bome weg kruip.

kerke 039

 Gou was die oggend om en my verkenningstog van die verlede op ‘n einde – dit was tyd om huis toe te gaan!

Social Share Buttons and Icons powered by Ultimatelysocial
Instagram