TRAVELBUCKET

ZANZIBAR

‘n Spur of the moment besluit die Sondag om die Maandag ‘n vinnige draai by die reisagent te gaan maak om kaartjies te gaan koop en  dan Dinsdag op die vliegtuig te wees vat ons Zanzibar toe.  Omdat die ander helfte van my in transit moes bly op OR Tambo moes ons die lang roete via Nairobi neem na Zanzibar.  Die eiland was al  baie lank in my travel bucket gewees en nou was dit ons  kans.

Gewoonlik is die besige Afrika lughawe ‘n miernes van mense wat kom en gaan en drentel en wag maar vanoggend is Jomo Kenyatta aan die stil kant en ek wonder of dit die gevolg van ebola is aangesien dit ‘n aansluitingspunt is vir vlugte vanuit Wes-Afrika.  Maar voort na Zanzibar.  Hier op Jomo Kenyatta moet jy amper alles uittrek om deur sekuriteit te kan gaan – skoene, geld, horlosie, belt, oorbelle, enigiets wat nie daardie masjien gaan laat piep nie – maar word ons tog gedurende die vlug beloon (al voel ek effe grys om die kiewe) met ‘n gesig van Kilimanjaro se skamele bedekte sneeu top.  ‘n Voorreg inderdaad.

Kilimanjaro with only a little bit of snow visible

Kilimanjaro with only a little bit of snow visible

Dit stort reën oor Zanzibar se lughawe terwyl almal stil raak in die vliegtuig en asem ophou dat ons nie na Dar Es Salaam hoef uit te wyk en wag vir beter weer nie.  Dan land ons tog na ‘n tweede probeerslag.  Welgedaan aan die bekwame kaptein van Precision Air!  Heel duidelik was dit nie sy eerste landing in sulke gure weer op die eiland se lughawe met die indrukwekkende naam van Abeid Amani Karume International Airport nie.   Getrou aan Afrika is die naam heelwat meer indrukwekkend as die lughawe self.

ZANZIBAR 015

Rain, rain, rain on Zanzibar

Ons rit na die Oostekant van die eiland begin deur strate wat vol water is  en  kry ek sommer nuwe respek vir die Kaptein van Precision Air se vliegvermoëns.  Die gesig van turkoois blou tropiese water laat my gou vergeet van Pando, ons taxi bestuurder, se bestuurvermoë.  Gewoonlik is ek nie ‘n kandidaat vir karsiek nie, maar Pando het daarin geslaag om my grys en bleek om die kiewe te laat en was Makuti Beach Lodge se hekke net betyds in sig.

Nadat ek al die fyn skrif (soos wat my prokureur man my mooi geleer het) op www.bookings.com gelees het en vinnig huiswerk gedoen het op Tripadvisor  (dit is darem “werklike” mense wat daar kommentaar lewer) het ek die bespreking by Makuti Beach Lodge gemaak.  Nader aan die water kan ons nie bly nie!  Met die afhandeling van die papierwerk met aankoms kom ons agter dat ek en my prokureur wederhelfte dieselfde begrip het van wat daar staan op www.bookings.com se website, maar helaas nie die Spaanse eienares van Makuti nie.  Sy dring daarop aan dat die verblyf vooruit in USD betaal moet word – geen kredietkaart fasiliteite nie!  Wat ‘n verligting dat ek so in my haas by die huis klomp USD in my rugsak geprop het saam met my geelkoors kaart.  Daar gaan ons hele week se spending money!

east coast images

The beaches at Bwejuue

Ons lees en lê vir die eerste twee dae met ‘n boek in die heerlike louwarm weer en ontspan.  Teen dag drie begin ons sommetjies maak om te sien of ons darem kan eet vir die res van die tyd wat ons hier is.  Die boeke balanseer nie. 🙁  So dan is dit Plan B.  Huur ‘n Vespa (30 USD per dag met net genoeg petrol om jou by die garage te kry) en ry die 46 km terug Stonetown toe om geld te gaan trek, want aan die Oostekant van die eiland is daar geen banke nie.  So gesê, so gedaan!

Net genoeg petrol om jou by die enigste garage aan die Oostekant van die eiland te bring

Net genoeg petrol om jou by die enigste garage aan die Oostekant van die eiland te bring

Omdat ons gesoute Afrika travellers is besef ons die Vespa rit gaan nie ‘n rit om die blok wees nie.  Net na ontbyt spring ons in die pad en voordat ons kan petrol ingooi moet ons die eerste polisiepunt trotseer.  Dankie tog vir die plaaslike bestuurderslisensie papiere wat ons in Stonetown (10 USD) laat kry het.  Die manne bestudeer die papiere sorgvuldig, maar is tevrede.

‘n Vespa is nie heeltemal so gemaklik soos ‘n BMW motorfiets nie en na die eerste 20 kilometer is dit tyd vir ‘n Marlboro en die Zumo om seker te maak dat ons darem nog op koers is.  Ons vorder goed.  My nek is nou al gewoond om in oor-die-skouer-posisie te wees om vir voertuie van agteraf dop te hou, want die Vespa se spieël is nie meer heeltemal so bruikbaar soos wat hy moet wees nie.

Die verkeer raak meer – taxi’s, trokke, scooters, fietse, voetgangers, honde,  kinders en die odd hoender of twee.  Stonetown se buitewyke is ‘n miernes van alles en almal wat beweeg en kom en gaan en koop en verkoop.  Maar diè twee Mzungus laat hulle nie afskrik nie want die Zumo vat ons mos mooi om die sirkel tot voor die Barclays ATM se  deur.  Tyd vir nog ‘n Marlboro – ons het dit gemaak sonder enige insident!  Maar soos dinge in Afrika maar werk is baie dinge op ‘n kaart/GPS aangedui, maar nie altyd beskikbaar nie.   Die sekuriteitswag kom aangeslenter en deel ons mee dat die ATM masjien nie werk nie.  Vriendelik verduidelik hy dat die NBC ATM net langsaan neem slegs die betrokke bank se kaarte.  Die moed sak so effe.  So wat nou?

ZANZIBAR 037

We made it to the ATM in Stonetown

Ons word verduidelik na ‘n ATM aan die anderkant van die verkeersirkel en besluit om die Vespa met sukkelende ratte net daar te los en eerder voet te slaan, met my geskeurde hak ligament, deur die verkeer na die ander opsie doer aan die oorkant.  Dalk is ons gelukkig.  Die ATM toon aan dat hy Visa, Master en Maestro kaarte aanvaar – nie sleg nie!  Iemand is reeds besig om geld te trek.  Ons hou angstig dop of die masjien werk.  Ja, wraggies ons is gelukkig …  of nie.

Die Tripple T faktor (ons spreekwoord wanneer dinge effe skeep loop) skop in en die teller gaan van lyn af of so iets …  Ons sê ‘n gebedjie op daar in die besige strate van Stonetown tussen al die verkopers en wag, want ons senuwees en beursie sal nie nog ‘n trippie vanaf Bwejuu na Stonetown maak nie.  Probeer weer.  Jippieeeee!  Om my voetbesering te spaar word ek staan gemaak op ‘n veilige plek (debateerbaar) en wederhelfte gaan  terug om die Vespa met sukkelende ratte te gaan haal en om die sirkel te werk met hom.  Die mense van Zanzibar is vriendelik.  Almal groet.  Ek voel nooit bedreig deur die plaaslike inwoners en asof ek die heeltyd oor my skouer wil loer soos in ons eie land nie.

Die terugrit begin en ek neem my oor-die-skouer-loer-posisie in, maar kry darem ‘n breek toe ons by die Jozani Forest stop om na die Colobus monkeys te gaan soek.  Hulle is so mense gewoond en rustig dat ons lekker baie foto’s kon neem en doen toe sommer ook die cache daar. Nog ‘n smilie!

colobus

Colobus monkeys in Jozani Forest

So kom ons as gevolg van Geocaching by Captain Cook’s Equinox restaurant, wat by sy huis  in die village van Jambiani is, uit waar ons laat  middag heerlike klapper White Snapper en rys eet.  En so gaan die week verby deur in die dag in die hangmat te hang en boeke te lees en die aande plaaslike plekkies al langs die strand te gaan soek vir aandete.  Eiland lewe op sy beste!

ZANZIBAR 110

Captain Cook’s

Dit is die laaste naweek van die vakansie en ons pak op om Stonetown, ‘n UNESCO verklaarde gebied, te gaan verken.  Ons het blyplek gekry in die Zanzibar Hotel wat volgens hulle webtuiste die eerste hotel op die eiland was.  Dit is lekker gerieflik in ‘n stil stegie geleë binne stapafstand van die strand en al die interessante gangetjies en winkeltjies wat dwarsoor Stonetown weggesteek is.  Ons dwaal vir twee volle dae deur die gangetjies en koop geskenke en verkyk ons aan die deure waarvoor Zanzibar so bekend is.

deure

Glimpses of old Stonetown

Ons betaal ons TSH7 000 en gaan maak ‘n draai by Anglican Cathedral wat op Kersdag 1877 in gebruik geneem is en merk dat  hulle besig is met grootskaalse restourasie werk.  Daarna besluit my eie Livingstone dit is tyd om die pad te vat per voet na David Livingstone se huis toe  en ek byt maar vas op die agterhoede met my voetbesering .   Ons stap deur minder toeriste tipe markte wat belaai is met dadels en brode en verby die Zanzibar Hooggeregshof tot by die nasionale gedenkwaardigheid wat vandag as kantore gebruik word.  Langs die pad moet ek eers twee pleisters koop (ja, jy koop hulle los!) by ‘n apteek wat verbasend bekende medikasie op die rakke het!

Cathedral

The Anglican Cathedal

Daarna volg my “Livingstone” sy GPS met ‘n ander pad terug sodat ons die Old Dispensary, wat op ‘n tyd as hospitaal gedien het en deur die Aga Kahn Stigting opgeknap is, ook te siene te kan kry.  Wat ‘n imposante gebou net jammer die houtwerk is liggroen geverf.

ZANZIBAR 308

The Old Dispensary

Met voete vol blase van die dag se stap maar ‘n lied in die hart gaan ons die aand ‘n G&T by een van ‘n strandkroeë drink en daarna kos koop by die nagmark in die Forodhani Gardens wat  elke aand voor die House of Wonders en  Arabiese Fort gehou word.  Hier kies en keur ‘n mens watse tipe seekos jy wil eet.  Enigiets van kreef, krap, prawns, scallops, calamari, seekat, gebraaide piesangs, kassawa  samoosas tot ‘n groot verskeidenheid van visserige sosaties en suikerriet stroop – te veel om op te noem.  Dit is net die ou rooi vleisies bly maar ietwat skaars!

Die laaste aand van die vakansie moet ons mooi beplan wat om te eet en drink om ons laaste paar Tanzaniese shillings te spandeer, want in Suid-Afrika kan jy dit mos nie ruil nie so ons wil dit nie huis toe bring nie.  Dit laat ons toe om een Kilimanjaro, ‘n plaaslike bier, te deel en ‘n stringetjie prawns vir aandete te nuttig.  Nou het ons regtig net ons airport tax nog oor!

Met ‘n lied in die hart, ‘n glimlag op die gesig en ‘n smilie op my travelbucket klim ons op die KQ vlug terug huis toe en sê ek totsiens vir my man op OR Tambo.  Dit was lekker!!

“Not all those who wander are lost.”
J. R. R. Tolkien

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Facebook
Instagram