TRAVELBUCKET

HISTORIESE GEORGE

Die storie van George, wat na King George III vernoem is, begin reeds op 23 April 1811.  Ek begin stap in Yorkstraat, wat vernoem is na die Duke of York en tweede seun van King Geroge III, by die Old Town House.  Dit is reeds in 1847 opgerig en het eers die George Museum gehuisves, maar vandag dien dit as restaurant.

Dan 100 jaar later in 1911 word daar op die hoek van Mark- en Hiberniastrate, ‘n gedenksaal opgerig wat vandag die Ingenieurs Departement van die George Munisipaliteit huisves.

Ek kruis die straat en stap na die witgeverfde Poskantoor met sy mooi houtdeure en kenmerkende rooi posbusse.  Nie net is dit in 1948 voltooi, maar spog ook met ‘n hout kloktoring.

poskantoor

Dan verder op in die straat kry ek onverwags, agter mooi ysterhekke in ‘n lowergroen tuin, ‘n glimps van die statige Bishops Lea, huis van die Diocese of George. Iets wat ek dink nie baie Georgiete van bewus is nie is dat die huis deur die bekende Sir Herbert Baker ontwerp is.

Juwele 015

Die koffie geure van Beans about Coffee in Van Kervel Huis lok jou na binne.  Hier kan jy kies uit ‘n verskeidenheid koffiebone wat vars gemaal word terwyl jy wag.  Die geur oorreed my onmiddellik om een van die vele blends wat beskikbaar is te probeer.  Met lande van oorsprong soos Kenyia, Ethiopie en nog vele meer is dit maar moeilik om die lekkerste een te kies.

Maar ek stap aan.  Volgens geskrifte arriveer juf Christina van Niekerk in 1877 in  George met die visie van ‘n skool vir die omgewing.  Charles Bullock, wat ook baie van die sandsteen geboue in Oudtshoorn ontwerp het, dra sy deel in 1905 by tot die argitektoniese beeld van George en ontwerp die koshuis van die meisieskool wat ons sedert 1969 as die  Arts Theatre ken.

ARTS THEATRE

Reg langs hom is Oorskotjie wat deel van die skool kompleks gevorm het en dan volg Hurteria House wat as skool gedien het.  Ek verpoos ‘n oomblik in die koelte van die statige ou akkerbome op die sypaadjie.  Heerlik.

Juwele 023

My draaipunt is aan die bopunt van Yorkstraat by die Drostdy wat in 1812 gebou is onder toesig van landdros Van Kervel.   In 1826 het die gebou egter afgebrand, maar in 1831 het dit tweede lewe gekry  toe William Hollet dit herstel het as sy privaat woning.   In die 19de eeu gryp Alex Fotheringham in om die gebou verder te laat herleef as die Victoria Hotel totdat die Munisipaliteit dit in 1972 gekoop het en as museum ingerig het.

george 001

Ek neem die pad aan die linkerkant van Yorkstraat af (rigting see se kant toe) verby die Landdroshof.  Voor die Toerisme Buro (ook die werk van ou Charles Bullock) staan ‘n ou slaweboom in die tuin.  As jy mooi kyk sal jy nog ‘n ketting aan die boom se stam sien.  Dit is op die dorp se eerste tennisbane opgerig.

Die volgende imposante plek wat my oog vang is Lache Huis by 120 Yorkstraat.  Dokter Charles Owen-Snow het in 1903 die mediese praktyk gekoop.  Hy word toe later ook die distriksgeneesheer en was die trotse eienaar van die eerste motor wat in George geloop het.  Vandag word die perseel onder andere as advokate kamers gebruik.

Weggesteek op die volgende hoek is die ou klip katedraal van St Marks wat deur die bekende Sophy Gray ontwerp is.  Die katedraal het ‘n ryke geskiedenis.  Dit is gebou deur drie klip skrynwerkers met klip wat aangery is vanaf Victoria Hoogte en in net 13 maande voltooi.  Soos so baie kerke in ons land is die deure van die katedraal ook vandag gesluit vir die publiek, maar agter die kerkie is daar ‘n ou begraafplaas met  ‘n paar interessante grafte.  Henry Fancourt White, die bouer van die Montagu pas,  is seker heel tevrede om hier ‘n laaste lêplek te kon vind.  Ook Koning Elizabeth het tydens haar staatsbesoek in 1948 hier ‘n draai afgelê.

Ek eindig by die Standard Bank gebou op die hoek van York- en Hiberniastraat  wat klaarblyklik in 1879 sy eerste tak hier geopen het na gerugte dat goud in die omgewing gevind is.  Hierdie gebou dateer uit 1939 en het opknappingswerk in 1978 en 1983 ondergaan.

Juwele 014

Comment (1)

  1. furtdsolinopv

    Hey very cool website!! Man .. Beautiful .. Amazing .. I’ll bookmark your website and take the feeds also?KI’m happy to seek out numerous useful information right here within the publish, we need work out extra techniques on this regard, thanks for sharing. . . . . .

    Reply

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Social Share Buttons and Icons powered by Ultimatelysocial
Instagram