TRAVELBUCKET

KNYSNA FIRE DISASTER, 7 JUNE 2017

7 June 2017 —  I will surely never forget the date.  This is the date when the worst fires ever in history struck the Garden Route area.

8 Junie 2017 — Soos wat ek nou hier sit en skryf elf uur die oggend is dit ‘n vriesende 8°C buite.  Vir ons wêreld is dit koud, baie koud.  Ek sit en my gedagtes dwaal na  die mense wat vanoggend moet gaan kyk wat het hulle oor van hulle lewe – heel moontlik niks.

So kom die berigte die een na die ander in.  Die een gesin soek nog na hulle ma wat Alzheimers het.  Hulle weet nie waar sy is nie …  Die honde wat ronddwaal en soek na hulle base en huise …  Mense wat die nag in hulle karre geslaap het met net  die klere aan hulle lyf …  Mense wat angsaanvalle kry …  Eens bekende huise is onherkenbaar …

Dan is daar ook die goeie stories wat vorendag kom.  Die Go George busbestuurders,  met 800 bottels water en 30 bale komberse, wat hulle tyd opoffer om mense te gaan haal en na veiligheid te bring …    Pelican Lodge Gastehuis wat ‘n sentrum opgestel het waarheen mense kon kom en gratis hulle familie laat weet dat hulle veilig is …  Die DBV van Uitenhage wat diere kom haal en van “foster homes” voorsien …  Dr Ruth* en Dr Elke, twee wonderlike veeartse van George, wat hulle oor die diere slagoffers ontferm en hulp aanbied …

Die lys van stories is soms hartverskeurend en soms inspirerend.

Gisteraand het ek met nuwe oë en respek na die mense van my omgewing gekyk.  Soveel welwillendheid en saamstaan het ek lanklaas gesien.  Mense wat net opdaag om te help – hulle gee nie om wat hulle doen nie.  Elkeen wat daar was, wou net die hulp gee wat hy kon.

Dit was koud.  Hier teen 03:00 was dit maar net 3°C gewees en die woeste wind het nog steeds gewoed, maar ieder en elk wat sy bydrae daardie tyd van die oggend gemaak het, het die elemente getrotseer en dit  met ‘n warm hart gedoen vir wild vreemde mense wie hulle nog  nooit in hulle lewens gesien het nie.

Mense het opgedaag met potte kerrie en rys, beskuit, toebroodjies, pizzas, koffie, suiker, klere, skoene, matrasse, stootkarretjies, ens, ens, ens.  Die lys is lank.  Nie een persoon het omgegee om  broodjies te smeer of om klere te sorteer en of jy nou moes koffie aandra vir iemand wat die admin doen –  jy het gedoen wat jou hand vind om te doen!  Elkeen wat opgedaag het, en steeds opdaag, om iets te skenk doen dit met deernis en opregtheid.

—ooooOoooo—

Follow the link below to a very interesting article explaining some contributing factors to the horrendous fires.

Knysna Fires : Five factors that produced the Perfect Inferno

—ooooOooo—

Ons land kan!

            Ons kan as ons wil!

                       Ons kan saamstaan as ons moet!

                                  Ek is trots op MY mense van die Tuinroete.

                                          God is good all the time!

******  Dr Ruth van Vetcare Animal Clinic is ook ons boisterous Bully se veearts.
Social Share Buttons and Icons powered by Ultimatelysocial
Instagram