TRAVELBUCKET

MALELANE RUSKAMP (KNP)

Malelane Sateliet Kamp is een van die kleiner ruskampe in die wildtuin, sowat 3 kilometer vanaf die Malelane hek, wat selde vol bespreek is.  So dit is ideaal as jy op die ingewing van die oomblik besluit om wildtuin toe te gaan om diere te gaan soek.

Maar miskien is die kamp ook nie vir almal lekker.  Daar is nie ‘n winkeltjie of restaurant fasiliteite nie.  Ook nie gras staan plekke nie.  Jou naaste inkopiesentrum gaan wees by Berg en Dal ruskamp ongeveer 10 kilometer verder aan.

Wildtuin 081

Daar is ook nie WiFi in die chalets nie, maar wie kom nou wildtuin toe om op die internet te lê?

Maar as jy stilte soek weg van die gejaag en gemaal in die wildtuin is dit ‘n baie lekker kampie om in uit te span.  Die kampplekke het nie almal gras en bome nie en sommige effe skuins, maar ons kon daarmee saamleef.  Tussen die jong kremetarte voor  die sowat vyf chalets is daar egter lekker groen grasperke met bankies wat oor die rivier uitkyk.

Wildtuin 074

Alhoewel die gemeenskaplike kamp kombuis met die chalets gedeel word was dit  elke dag sprankel skoon gewees in die tyd wat ons daar was.  Daar is ook ‘n gemeenskaplike vrieskas tot die beskikking van die besoekers.  Iets wat vir my lekker was is die “quick hot water point” waar jy jou koffiefles vol water kan maak voordat jy vroeg oggend uitwyk om te gaan diere te kyk.

Wildtuin 070

Die ablusieblok het elke dag genoeg warm water gehad beide aan die mans en dames kante.  Elke staanplek het ‘n elektriese punt en ‘n gemeenskaplike kraan.  Vir twee dae was ons die enigste kampeerders in die kamp.   Salig!

Elke aand vir die vier dae  wat ons daar gestaan het was ons gelukkig gewees om iets interessant te sien.  Op ons eerste aand het ek my UV flitslig gevat en bietjie rond gestap om te kyk wat ek sien.   Tot my verbasing was die boom waaronder ons gestaan het oortrek van skerpioene.  Wat het ek geleer?  Moet nooit sommer in die donker aan ‘n boom vat nie.  Jy mag dalk net ‘n pynlike verrassing kry!  Die tweede aand het ‘n sivet kat sy opwagting teen die draad gemaak.  Hy was baie nuuskierig en het ons lank dopgehou van anderkant die draad.  Wat ‘n prag dier!  ‘n Klompie hiënas het ook hulle draai kom maak laat middag.  Alhoewel dit erg droog was het ons tog ook soms seekoeie in die Krokodilrivier wat teen die kamp verby loop, gehoor.

IMG_7044

Hoekom hou ek hiervan? 

  • Geen dagbesoekers word toegelaat nie
  • Geen winkel/restaurant in die kamp
  • Skoon kombuis en ablusie geriewe

Wat hou ek nie van nie?

  • Omdat die kamp so naby aan die grens van die Wildtuin is sien jy fabrieke se rook op die horison
  • Laat in die nag hoor jy trokke oppad na die grenspos by Komtaipoort
Social Share Buttons and Icons powered by Ultimatelysocial
Instagram