TRAVELBUCKET

BRAKKEDUINE

Een van die  beste plekke om jou bass visvang skills te kom bemeester is hier by Brakkeduine.  Sommer net ‘n klipgooi neffens Port Elizabeth is hierdie juweel, in die hartjie van die Tsitsikamma, geleë en net reg vir ‘n vinnige naweek wegbreek wanneer die stad druk.

Picture 011

Die grondpad vanaf Humansdorp verby Oesterbaai raak soms ‘n bietjie sleg, maar juis te meer maak dit van Brakkeduine meer spesiaal – dit is nie sommer enige Jan Rap en sy maat wat hier uitkom om te kom ontspan nie.  ‘n Mens wil amper die plek geheim hou en dit nie met die massas deel nie.

Hier is kinders welkom en kan hulle nog vry rond hardloop en na hartelus kerjarkker op die groen gras.  Die  foefie slide,  glybaan, swaaie en swembad hou hulle ure besig en ‘n mens vergeet amper van hulle.  En as die grootmense voel om ‘n slag weer ‘n kind te wees kan jy ook maar jou lyf bietjie Tarzan hou op die foefie slide.  Dit is vet pret!

O ja, maar wag ons is by die visvang.  Hier vang die manne bass.  En volgens

speelplek

die foto’s wat in die lapa (vir daardie winderinge dae) hang, is dit nie net ‘n visstorie of twee nie – daar is regtig vis in die dam.  Wel, ons sal sien of dit waar is.

Picture 006

Jarelange vriende, Johan en Choppie, help ons gou om die bootjie in die water te kry en daar gaan manlief met een doel voor oë – bass vang!  Die dam is egter ook gewild by waterski liefhebbers.  Met die nodige bedagsaamheid is daar ‘n plekkie vir ieder en elke tipe entoesias  hier by die Klippedrif dam.

Picture 005

Wees net wys en smeer maar die sonblok mildelike.  Die koel Tsitsikamma weer is soms bedrieglik en  mens verbrand sommer gou-gou en verander sonder jou wete in ‘n kreef!  Wyse raad is om maar ook altyd ‘n ou warm dingetjie byderhand te hou, selfs in die somermaande. Hier kan die weer in ‘n ‘n oogwink verander.

Jou  naaste winkel is in Oesterbaai wat net die basiese dinge voorsien (en so ‘n bietjie visgoed).  As jy enigiets meer eksoties nodig het sal jy die 36km of wat  met die melktrok pad weer moet terug Humansdorp toe om voorrade aan te vul.

En vir die boys with their 4×4 toys is daar ook ‘n begeleide sandroete in die sensitiewe duineveld waar hulle kan speel na hartelus en kyk of hulle regtig so vaardig is as wat hulle dink.  Maar dit is dalk ‘n storie vir ‘n ander dag.

Is daar bass?  Wel ek weet nie – ek het niks om dit te bewys nie.  Is dit ‘n visstorie dat daar bass is?   Wel ek weet nie – kom vind maar self uit.

En as jy wil kom sal jy die klomp gawe mense kry by  S34.129936, E24.565748 en kyk sommer wat gaan alles op hulle Facebook-blad en iOverlander App ook aan.

Kontak vir Choppie of Johan Linstrom by 084 515 4551 of 083 400 3720

Social Share Buttons and Icons powered by Ultimatelysocial
Instagram