TRAVELBUCKET

UITSPAN TYD BY UITSPAN

Dit is een van baie lekker kampplekke in die Baviaanskloof en hier doen ‘n mens net wat die naam sê –  uitspan! 

Omdat ons by die see woon vermy ons gewoonlik die malligheid van ‘n Desember vakansie by die see en kies eerder koers binneland toe.  Karoo toe.  En waar meer kry jy Karoo as in die Baviaanskloof? 

Hier is dit boeklees-tyd, koffie-tyd, gesels-tyd en vriende maak-tyd weg van tegnologie en die gewoel van die stad.  Die staanplekke is met groot sorg uitgelê sodat elkeen ‘n koelte kolletjie het, wat belangrik is in die somer, maar tog nie so ingedruk dat jy oor mekaar kamp nie.  Dit is nogal iets wat vir ons baie punte tel.

Hier is oorgenoeg om te doen, as jy iets wil doen!   Jy word  begroet met ‘n blouste blou plaasdam swembad met ‘n groen grassie wat sorgvuldig elke dag nat gemaak word en waar die kinders bal skop en speel terwyl die grootmense in en rondom die dam kuier.   Wat is nou lekkerder as dit? 

As jy die oggend energiek voel kan jy met die paadjie stap tot bo op die kop en die wêreld bespied tot daar ver.  Begin maar vroeg, want hier word dit warm in die somer.  

Indien jy  wil weet in die buitewêreld aangaan kan jy data koop en op die regte kolletjie opvangs kry.  Omdat die kloof afgeleë is, is tegnologiese konneksies  uitdagend hierso, so hou moed.  Die klein winkeltjie het die mees basiese goed en ietsie koud, maar bring maar jou luukses saam vanaf die huis.   In die droogte tyd is die kampplek en winkeltjie vir die mense ‘n lewensaar so ondersteun hulle.

Jy kan ook jou fiets pak om die paaie in die kloof verder te verken.   Ons gesin het egter heelwat tyd spandeer om die kleiner voël lewe dop te hou en te identifiseer terwyl ons agter die koelte aan geskuif het. 

Die weer verander vinnig hier. Ons het in die hitte van die somer gekamp, maar een middag het die weer vinnig ‘n ander neiging getoon toe ‘n ysige wind instoot en ons moes skuiling gaan soek in die lapa teen bakke vol reën. Wees maar voorbereid vir alles!

Uitspan is ook ‘n lekker oornag stop vir ‘n eerste of laaste aand wanneer jy ver reis, want dit is aan die westelike ingang van die Baviaanskloof geleë.  Daar is ook chalets indien jy wil vroeg roer omdat die pad nog lank is. 

Akkommodasie:  kamp, boskamp en chalets

Waar:  westelike ingang na die Baviaanskloof  (  Longitude: 23.7008   Latitude: -33.51585)

Naaste dorp:  Willowmore (45 km)

Kontak:  Nico & Alta Smith  (044 923 1511)

oooOooo

*Artikel soos verskyn in Kamp is Lekker se aanlyn tydskrif vir Oktober 2020*

Kamp is Lekker>

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Social Share Buttons and Icons powered by Ultimatelysocial
Instagram